Gaan na inhoud

Titi

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Titi
Groot Koningsvrou, Koningsdogter, Koningsuster, Koninginmoeder
Titi, soos uitgebeeld in haar grafkelder, QV52.
Titi, soos uitgebeeld in haar grafkelder, QV52.
Begrawe QV52, Vallei van die Koninginne, Thebe, Egipte
Gade Ramses III
Kinders Ramses IV, moontlik Chaemwaset, Amoen-her-chepesjef en Meriamoen
Dinastie 20ste Dinastie van Egipte
Vader Sethnachte

Titi was 'n koningin van die 20ste Dinastie van Egipte. Sy was die vrou en suster van Ramses III en moontlik die moeder van Ramses IV.

Titi se plek in die dinastie[wysig | wysig bron]

Dit was eers onseker wie haar man was, maar intussen is vasgestel dit was Ramses III, gebaseer op nuwe bewyse in die 2010-uitgawe van die Journal of Egyptian Archaeology (JEA). Haar titels wys sy was die dogter, suster, vrou en moeder van konings.

tiiit
Z4
B7
[1]
Titi
in hiërogliewe

In die verlede het sommige geglo sy was getroud met Ramses X, en dat sy en haar man albei die kinders van Ramses IX was.[2] Maar volgens 'n ander teorie van Jehon Grist het sy vroeër in die 20ste Dinastie gelewe en was sy die dogter-vrou van Ramses III en die moeder van Ramses IV.[1] Na aanleiding van die ouderdom van hulle kind moes Ramses egter dan met sy dogter getrou het voordat hy die troon bestyg het, en huwelike tussen pa en dogter is net deur farao's en hulle dogters aangegaan.

Titi word uitgebeeld met 'n soort kroon wat, volgens een teorie, gedra is deur prinses-koninginne soos Nebettawi.[3] Nou het nuwe navorsing deur geleerdes egter daarop gedui dat sy wel Ramses III se vrou was.[4]

Omdat haar man Ramses III was, meen Leblanc Titi is die moeder van Chaemwaset, Amoen-her-chepesjef en Meriamoen.[5]

Titi geklee as 'n priesteres (tekening deur Lepsius).

Grafkelder QV52[wysig | wysig bron]

Titi se grafkelder is QV52 in die Vallei van die Koninginne en haar titels was: "Koningsdogter, Koningsuster; Koningsvrou, Koningsmoeder, God se Vrou"[6] en "Dame van die Twee Lande".[1] Die kelder is beskryf deur Champollion, Lepsius, Wilkinson en Hay. Dit bestaan uit 'n gang, sykamers, 'n saal en 'n grafkamer.[7]

Die mure is versier met gode wat pare vorm, met een teen die noordemuur en 'n ander teen die suidemuur. Ná 'n sittende godin Maät met vlerke, is daar die gode Ptah (suid) en Thoth (noord), wat die onderwêreld verteenwoordig; dan Ra en Atoem, wat songode is; gevolg deur Imset en Hapi en deur Doeamoetef en Qebehsenoef, die vier seuns van Horus. Aan die einde van die parade van gode is Isis en Neftis.[5]

Die versierings in die gang bestaan uit beskermingsgode. Die deure na die sykamers is versier met bewakers wat herinner aan die Boek van die Dooies. Die ingang tot die laaste kamer is versier met die vier seuns van Horus.[5]

Die grafkelder is tydens die Derde Oorgangstydperk van Egipte hergebruik. 'n Put is in van die kamers gegrawe en 'n verskeidenheid begrafnisvoorwerpe is ontdek, soos sarkofagusse en persoonlike items.[5]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. 1,0 1,1 1,2 Jehon Grist: The Identity of the Ramesside Queen Tyti. in: Journal of Egyptian Archaeology, Vol. 71, (1985), pp. 71-81
  2. Dodson, Aidan; Hilton, Dyan (2004). The Complete Royal Families of Ancient Egypt. Londen: Thames & Hudson. ISBN 0-500-05128-3., p.187
  3. Aidan Dodson: The Takhats and Some Other Royal Ladies of the Ramesside Period. Journal of Egyptian Archaeology, Vol. 73, (1987), pp. 224-229
  4. Mark Collier, Aidan Dodson, & Gottfried Hamernik, P. BM 10052, Anthony Harris and Queen Tyti, Journal of Egyptian Archaeology 96 (2010), pp.242-247
  5. 5,0 5,1 5,2 5,3 Demas, Martha, en Neville Agnew, reds. 2012. Valley of the Queens Assessment Report: Volume 1. Los Angeles, CA: Getty Conservation Institute. Getty Conservation Institute, skakel na artikel
  6. Dodson & Hilton, p.194
  7. Porter, Bertha and Moss, Rosalind, Topographical Bibliography of Ancient Egyptian Hieroglyphic Texts, Statues, Reliefs and Paintings Volume I: The Theban Necropolis, Part 2. Royal Tombs and Smaller Cemeteries, Griffith Institute. 1964, pg 756-8

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]