Gaan na inhoud

Wikipedia:Voorbladartikel week 27 2024

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
'n Gravering met 'n koninklike inskripsie van Nebukadnesar II. Anton Nyström, 1901.

Nebukadnesar II (ook bekend as Nebukadrésar II; Babiloniese wigskrif: , Nabû-kudurri-uṣur, "O god Nabu, bewaar my erfgenaam"; Bybelse Hebreeus: נְבוּכַדְנֶאצַּר) was die tweede koning van die Nieu-Babiloniese Ryk. Hy het regeer van sy vader, Nabopolassar, se dood in 605 v.C. tot met sy eie dood in 562 v.C. Hy is histories bekend as Nebukadnesar die Grote en word algemeen beskou as die ryk se grootste monarg.

Nebukadnesar is steeds bekend vir sy militêre veldtogte in die Levant, vir sy bouprojekte in sy hoofstad, Babilon, insluitende die Hangende Tuine van Babilon, en vir sy rol in die Joodse geskiedenis. Hy het 43 jaar lank regeer, die langste in die Babiloniese dinastie. Teen die tyd van sy dood was hy een van die magtigste heersers in die wêreld.

Hy is waarskynlik genoem na sy oupa met dieselfde naam of na Nebukadnesar I (bewind: omstreeks 1125-'04 v.C.), een van Babilonië se grootste antieke vegter-konings. Nebukadnesar II het reeds tydens sy vader se bewind naam gemaak deur leërs aan te voer in die Babiloniese verowering van die Assiriese Ryk. By die Slag van Karkemis in 605 v.C. het Nebukadnesar die Egiptiese leër van farao Necho II oortuigend verslaan en verseker dat die Nieu-Babiloniese Ryk die Nieu-Assiriese Ryk sou opvolg as die oorheersende mag in die antieke Nabye Ooste. Kort ná dié oorwinning het Nabopolassar gesterf en Nebukadnesar koning geword.

Ondanks sy suksesvolle militêre loopbaan tydens sy vader se bewind, het Nebukadnesar in sowat die eerste derde van sy eie bewind geen groot militêre prestasies behaal nie, maar wel 'n rampspoedige mislukking toe hy Egipte probeer inneem het. In dié tyd het sommige van Babilonië se vasals, veral in die Levant, begin om Babilon se mag in twyfel te trek omdat dit nie op die vlak van die Assiriese Ryk was nie. Die situasie het so ernstig geword dat mense in Babilonië self ongehoorsaam aan die koning begin word het. Sommige het selfs in opstand gekom teen sy heerskappy.

Hierna het Nebukadnesar beter sukses behaal. In die 580's v.C. was hy betrokke in 'n reeks militêre optredes in die Levant teen die vasalstate wat daar in opstand was, moontlik met die uiteindelike doel om die Egiptiese invloed in die streek aan bande te lê. In 587 v.C. het Nebukadnesar die Koninkryk Juda en sy hoofstad, Jerusalem, verwoes. In die verowering van Jerusalem is die stad se inwoners en mense van die omringende grondgebied gevange geneem en na Babilon gedeporteer. Hy was die Jode se grootste vyand tot op daardie punt. Die Bybelboek Jeremia skilder Nebukadnesar as 'n wrede vyand, maar ook as God se aangestelde heerser van die wêreld en 'n goddelike instrument om ongehoorsaamheid te straf.

...lees verder