Gaan na inhoud

Portaal:Antieke Egipte/Artikel

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Antieke Egipte/Artikel

Die Dodetempel van Hatsjepsoet (Egipties: Ḏsr-ḏsrw, "Allerheiligste") is 'n dodetempel wat in die tyd van farao Hatsjepsoet van die 18de Dinastie gebou is. Dit is oorkant die stad Luxor geleë en word beskou as 'n meesterstuk van antieke argitektuur.

Die tempel se drie enorme terrasse styg uit bo die woestynbodem tot in die kranse van Deir el-Bahari. Hatsjepsoet se grafkelder, KV20, is in die Vallei van die Konings. Oorkant die Nyl wys die hele struktuur na die monumentale agtste spanmas, Hatsjepsoet se herkenbaarste byvoeging tot die Tempel van Karnak. Die dodetempel se dubbele funksie word deur sy asse geïdentifiseer: Sy hoofas van wes na oos het ten doel gehad om die bark (boot) van Amoen-Re te ontvang tydens die hoogtepunt van die Mooi Fees van die Vallei, terwyl sy as van noord na suid die lewensiklus verteenwoordig van die farao van sy kroning tot sy hergeboorte.

Die tempel is gebou tussen Hatsjepsoet se sewende en 20ste bewindsjaar. Die ontwerp is in 'n groot mate beïnvloed deur die Dodetempel van Mentoehotep II van die 11de Dinastie, wat ses eeue tevore gebou is. Dit is egter heeltemal uniek wat sy kamers en heiligdomme betref. Die hoofas, wat gewoonlik vir die dodekompleks gebruik is, word beslaan deur die heligdom van die bark van Amoen-Re, terwyl die dodekultus van noord na suid geplaas is en die sekondêre as vorm. Apart van die hoofheiligdom lê die heiligdomme vir Hathor en Anoebis op die middelste terras. Die suilegange aan die voorkant van die terras hevat die merkwaardigste reliëfs van die tempel: dié van die ekspedisie na die land Poent en die goddelike geboorte van Hatsjepsoet, die belangrikste deel van haar aanspraak om die troon te beset as lid van die koninklike familie en as 'n goddelike afstammeling.

Die toestand van die tempel het mettertyd agteruitgegaan. Twee dekades ná Hatsjepsoet se dood is verwysings na haar bewind onder leiding van Toetmoses III uitgewis of onregmatige oorgeneem. Die rede is onduidelik. 'n Persoonlike wrok lyk onwaarskynlik, want Toetmoses het eers 20 jaar gewag voor hy opgetree het. Dalk het 'n dispuut tussen die Ahmose- en die Toetmoses-lyn daartoe gelei. In die Amarnatydperk was die tempel weer in gevaar toe Achenaten gelas het dat alle beelde van Egiptiese gode, veral dié van Amoen, vernietig word. Dié skade is eindelik deur Toetankamen, Horemheb en Ramses II herstel. 'n Aardbewing in die Derde Oorgangstydperk het verdere skade aangerig. In die Ptolemeïese tydperk is die heiligdom van Amoen herbou en 'n nuwe suilegang voor die ingang daarvan opgerig. 'n Koptiese klooster is tussen die 6de en 8ste eeu n.C. daar gebou, en beelde van Christus is bo-oor die oorspronklike reliëfs geverf. Die laaste graffito in die tempel kom uit omstreeks 1223.

Die tempel het weer in die moderne annale verskyn toe Richard Pococke, 'n Britse reisiger, dit in 1737 besoek het. Ernstige uitgrawings is egter eers in die 1850's en 1960's onder leiding van Auguste Mariette gedoen. Die tempel is tussen 1893 en 1906 heeltemal uitgegrawe tydens 'n ekspedisie onder leiding van Édouard Naville. Nog werk is van 1911 tot 1936 gedoen deur Herbert E. Winlock en die Metropolitan-kunsmuseum (MMA), en van 1925 tot 1952 deur Émile Baraize en die Egiptiese Oudhedediens. Herstelwerk duur voort en dit is in Maart 2023 vir die publiek oopgestel.

Onderskrif: Hatsjepsoet se tempel. Lees hier meer oor die tempel.